Meer oor Kleinmond

Kleinmond se inwoners is met reg trots op hulle dorp. Kleinmond is nie sommer net nog ’n dorp nie.

Hierdie uitsonderlike plek lê ingewig tussen die Palmietberge, die see, die Palmietrivierstrandmeer en die klein mond van die Botrivierstrandmeer. Dit is binne ’n UNESCO verklaarde biosfeer met meer as 1 600 fynbosspesies, waarvan 150 endemies is. Die Kogelberg Natuurreservaat grens aan die dorp.

Voetslaanpaadjies langs die kus en in die reservaat bring natuurliefhebbers in ’n ommesientjie midde-in ons unieke fynbos. Meer uitdagende roetes neem jou na asemrowende uitsigte vanaf die omringende bergpieke. En daar is sportroetes vir rotsklimmers teen Kasteelkop.

Kleinmond se hoofstrand het blouvlagstatus en is gewild vir sonbaai, swem, branderry, visvang en lang stappe op ’n byna eindelose strand. Kinders speel graag in die strandmeer en mense roei in klein bootjies daarop. Met voetpaadjies kan jy al langs die kus stap van die hoofstrand af tot by die mond van die Palmietrivier en sy karavaanpark. Die Palmietrivier het verskeie swemplekke en roeiplekke.

Kleinmond se bekende wilde perde kan in die omgewing van die Rooisand Natuurreservaat gesien word en walvisse kom kuier dikwels tussen Junie en November naby die kuslyn.

Die omgewing is ’n paradys vir voëlkykers en die roep van visarende kan dikwels gehoor word. Saans vermaak die naguiltjies en dikkoppe inwoners en soggens vroeg raas die tarentale en hadeda’s almal wakker. Die besoeke van ’n trop bobbejane is vir sommige inwoners ’n ergenis, vir ander ’n bevestiging dat ons in ’n natuurgebied bly en dat ons die omgewing deel met wilde diere. Vaal ribbokke en klipspringers word van tyd tot tyd gesien, en tuine word gereeld deur ystervarke besoek. En nou en dan kom wys die otters gesig.

Die hawe is ’n gewilde kuierplek met sy restaurante, teater, winkeltjies en vrolike atmosfeer. Kleinmond beskik oor ’n 9-putjie-gholfbaan, rolbal-, jukskei- en tennisbane en ’n topklas sokkerveld.

Kleinmond het ’n lewendige sakesektor, verskeie laerskole en aktiewe kerke. Hier is dokters, tandartse, apteke, ’n winkelsentrum, werkswinkels met knap werktuigkundiges en hardewarewinkels. In noodgevalle is die provinsiale hospitaal en Mediclinic op Hermanus binne bereik. Geen wonder dit is ’n gewilde aftreeplek nie.

Die grootste bate van Kleinmond is egter sy mense. Hier word jy nog vriendelik in die strate gegroet en hier gee mense nog om vir mekaar. Die bestaan van ’n hele aantal gemeenskapsorganisasies en klubs wat op die deelname van vrywilligers berus, is bewys hiervan.

Kleinmond is trots op die samewerking wat daar bestaan tussen die Overstrand Munisipaliteit, die SAPD, die Belastingbetalersvereniging en Kleinmond Straatwag asook tussen die verskillende gemeenskappe wat hier saam woon. Talle vrywilligergroepe soos die Kleinmond Kapgroep, die Natuurbewaringsvereniging, Fynbos Sorgsentrum en die Dierebeskermingsvereniging lewer ’n bydrae om dit wat so spesiaal aan Kleinmond is, te bewaar en uit te bou