Hoe doen ons dit?

Hoe doen ons dit?

Ons woon in ’n uitsonderlike mooi dorp, en ’n plek waar mense nog groet in die strate, omgee vir hulle bure en besoekers met ope arms verwelkom.

As inwoners is daar ’n verpligting op ons om ons dorp en omgewing veilig te hou. Dan sal ons almal steeds al die buitelugaktiwiteite wat Kleinmond bied, kan geniet van wandelings op die strand of deur die fynbos in die berg tot swem in die see of riviermondings tot ontspan rondom ’n gesellige braai in die agterplaas.

Dit is waarom ’n groep inwoners besluit het om Kleinmond Straatwag in die lewe te roep. Dit is ’n gemeenskapsorganisasie wat wil verseker dat daar vinnige en effektiewe reaksie op kriminele aktiwiteite sal wees en dat inwoners toegang tot informasie deur behoorlike kommunikasie-kanale sal geniet.

Kleinmond Straatwag werk saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Kleinmond Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), die Departement van Gemeenskaps-veiligheid en Overstrand Wetstoepassing.

Om effektiewe bestuur en resultate te verseker, het ons die dorp in tien verskillende WYKE verdeel. Elke wyk het ’n WYKSKOÖRDINEERDER en elke straat ’n straatkoördineerder.

Ons bereid ons doelwitte soos volg:

  • Gereelde Kleinmond Nagwag-patrollies deur vrywilligers.
  • Ons kommunikasie-netwerk, wat direkte kommunikasie tussen die gemeenskap en die SAPD en ander rolspelers soos sekuriteitsmaatskappye verseker.
  • ’n Stelsel van onmiddellike rapportering van verdagte aktiwiteite (motors en persone).
  • Die versameling van informasie oor kriminele aktiwiteite. Dit word geanaliseer, wat weer lei tot doelgerigte aksie en opvolg van insidente deur die SAPD.

Kleinmond Straatwag het die betrokkenheid van elke wetsgehoorsame burger nodig. Daar is geen ingewikkelde vereistes nie en elkeen kan iets bydra, of jy nou ’n huiseienaar, besigheidspersoon, huurder, honde-stapper, afgetredene, werker, ma of iemand wat uit jou huis werk is. Ons verwelkom elkeen se betrokkenheid. Enige huishouding of besigheid kan sonder enige koste registreer. Moenie jou en jou gesin se veiligheid aan ander oorlaat nie.

Ons is die oë en ore van die polisie. Ons neem nie hulle werk uit hulle hande nie, maar ons kan baie doen om hulle te help om hulle hulpbronne maksimaal effektief gebruik.

SLUIT VANDAG AAN sodat ons wedersyds na mekaar kan omsien. Jy kan ’n groot verskil maak!