Boodskap van Kleinmond SAPD

Kleinmond Straatwag se onbaatsugtige en vrywillige diens het die afgelope vyf jaar ’n groot bydrae gelewer tot die bekamping van misdaad in Kleinmond.

In 2014 het Kleinmond gebuk gegaan onder baie hoë misdaadsyfers. Die meeste misdaad het snags plaasgevind en weens beperkte mannekrag kon die Kleinmond SAPD eenvoudig nie suksesvolle voorkomende polisiëring doen in Kleinmond sowel as Bettysbaai, Pringlebaai en Rooi-Els nie.

In September 2014 het ’n groep jong sakemanne saamgespan en begin om die dorp se strate snags te patrolleer. Goeie samewerking met die SAPD het daartoe gelei dat daar in die eerste drie weke meer as 20 misdadigers aangekeer is. Hierdie inisiatief is verder gevoer deur Kleinmond Straatwag, wat die amptelike stigting van die Kleinmond Nagwag gefasiliteer het.

Die Nagwag se patrollies en hulle samewerking met die SAPD het Kleinmond-dorp se misdaad met een derde laat afneem in die eerste jaar. Verder het die meeste misdaad in Kleinmond verskuif van die nag na die dag.

Kleinmond SAPD wil vir elke individu wat patrollies ry en/of finansieel bydra om die patrollies moontlik te maak, bedank. Hierdie onbaatsugtige diens van die gemeenskap om die SAPD te help om Kleinmond ’n veilige dorp te hou, word opreg waardeer.

Kleinmond Straatwag woon weekliks die misdaad-vergaderings van SAPD by en is deurgaans op hoogte van misdaadtendense. Vir hierdie samewerkende bestuurstyl van die Straatwag sê Kleinmond SAPD ook baie dankie.